Afrikaanse romantiese avontuurfilm Pad na jou Hart word op 14 Februarie 2014 vrygestel.

Pad na jou Hart, die eerste Afrikaanse romantiese avontuurfilm word op 14 Februarie 2014 landwyd in teaters deur Ster-Kinekor, Nu Metro en in onafhanklike teaters vrygestel.

Die jong, aantreklike en selfvoldane besigheidsman, Basson van Rensburg (Ivan Botha), het vyf dae om by sy pa se begrafnisdiens in Kaapstad uit te kom, maar hy moet sekere take voltooi op hierdie reis voordat hy die suksesvolle familiemaatskappy kan oorneem. Sy enigste kans om betyds in die Kaap te kom, is om 'n rygeleentheid saam met die beeldskone, boheemse meisie, Amory (Donnalee Roberts) te kry.

Soos hulle deur die asemrowende natuurskoon van Suid-Afrika reis, ontmoet hulle wonderlike karakters wat sorg vir lekkerlag-oomblikke en lewensveranderende ervarings.

Om weer in die liefde te glo was nie deel van een van die twee se plan nie, maar hulle kan nie help om met elke draai wat die lang pad af Kaap toe maak te besef dat niks nog ooit meer bestem gevoel het nie.

Hul veiligheid word skielik bedreig wanneer 'n donker figuur met sy eie agenda hulle op sy motorfiets inhaal. Basson en Amory word gekonfronteer met teleurstelling, hartseer en die wete dat dit onvermydelik is dat jy op jou lewenspad 'n paar slaggate gaan tref of verkeerde afdraaie gaan neem. Maar maak nie saak hoe moeilik die pad mag wees nie, op pad na ware liefde, is waar jy jou ware noord sal vind.

Die storie en draaiboek is geskryf deur Ivan Botha en Donnalee Roberts. Die film word vervaardig deur The Film Factory se Danie Bester asook deur Ivan Botha en Donnalee Roberts van Memory Box Productions. Die regie is deur Jaco Smit behartig.

Ivan Botha (Bakgat, 7de Laan) en Donnalee Roberts (Klein Karoo, 7de Laan) vertolk die hoofrolle. Ander bekende name soos Marius Weyers (The Gods Must Be Crazy, Die Wonderwerker) David James (District 9, Isidingo) Franci Swanepoel (Lien se Lankstaanskoene, Binnelanders) en Marcel Van Heerden (Verraaiers, The Flyer) is ook deel van die rolverdeling.

Pad na jou Hart is oor 3 300km dwars oor Suid Afrika geskiet. Die film begin in Sandton in Johannesburg en dan reis die karakters na die Golden Gate-natuurreservaat naby Clarens, hulle ry oor die Vanderkloof Dam, kuier in die middel van die groot Karoo in De Aar, stop in die Wildernis en eindig in Kaapstad.

Akteur, skrywer en vervaardiger Ivan Botha is bekend vir sy hoofrol as Wimpie Koekemoer in die suksesvolle Afrikaanse filmtrilogie Bakgat 1, 2 en 3 (waarvoor hy in 2009 'n SAFTA- nominasie ontvang het) en ook as Pieter van Heerden in die gewilde SABC2-sepie 7de Laan.

Die Suid-Afrikaanse aktrise en model Donnalee Roberts het in 2013 die hoofrol van Cybil Ferreira in die film Klein Karoo vertolk waarvoor sy 'n SAIFTA-nominasie vir beste aktrise ontvang het. Sy is bekend vir haar rol as die jong mode-ontwerper Annelie van Heerden in die SABC2-sepie 7de Laan.

"Dit was vir ons belangrik om 'n storie te skryf en 'n film te maak met soveel diepte dat dit onmoontlik is om nie aangeraak te wees deur die film wanneer jy by die teater uitstap nie”
- Donnalee Roberts.

"Pad na jou Hart vat jou op 'n reis deur ons land waar jy weer ontdek hoe beeldskoon Suid-Afrika is terwyl jy saam lag, saam huil en opnuut besef waaroor die lewe regtig gaan"
- Ivan Botha.

Die storie is deur Francois Bloemhof in 'n roman verwerk en word op 20 November 2013 deur NB Uitgewers vrygestel.

Die sanggroep ADAM en Joe Foster maak verskynings in Pad na jou Hart en elk het 'n oorspronklike liedjie vir die rolprent geskryf, naamlik Sal Oorlog vir jou Maak (ADAM) en Pad na jou Hart (Joe Foster). Die klankbaan word einde Januarie 2014 vrygestel.

Pad na Jou Hart is 'n romantiese avontuurfilm wat jou sal laat lag, huil en verlief maak op verlief wees.

"Die mees romantiese film van die jaar."

Vanaf 14 Februarie 2014 in teaters.

Kontakbesonderhede

Film

Publisiteit:

Ivan Botha - info@padnajouhart.com
Radio-publisiteit – Alishia van Deventer – alishia@starburstmusic.co.za – 083 635 4717

Kantoor:

The Film Factory – Claudia de Witt – 011 782 2096

Roman:

Eben Pienaar – eben@nb.co.za
Ale Steyn – ale.steyn@nb.co.za – 021 406 3033

Klankbaan:

Alishia van Deventer – alishia@starburstmusic.co.za – 083 635 4717

Webwerf en Sosiale Netwerke

Webwerf: www.padnajouhartfilm.co.za
Facebook: facebook.com/padnajouhartfilm / facebook.com/PadNaJouHart
Twitter: @padnajouhart