Marius Weyers - Basson Snr. Van Rensburg


Marius Weyers is as volksbesit ‘verklaar’ vanweë sy indrukwekkende en lang loopbaan in film, televisie en teater. Met 'n reeks hoofrolle in sy roemryke jare as akteur, is hy bekend aan alle Suid-Afrikaanse rolprentkykers.

Dit is karakters soos Andrew Steyn in The Gods Must Be Crazy en Jakes in Siener in die Suburbs wat sedert die 1960’s vir Marius ikoonstatus in die Suid-Afrikaanse filmbedryf besorg het. Hy het ook in 'n verkeidenheid internasionale produksies verskyn, onder meer Blood Diamond, The Fourth Reich en Catch a Fire.

Marius is ook uiters bekend aan televisiekykers. Hy het die hoofrol vertolk in noemenswaardige programme soos Amalia, Onder Draai die Duiwel Rond en Vloeksteen.
Meer onlangs is Marius te sien in Nothing for Mahala, Die Laaste Tango en Faan se Trein.

Hy het ook rolle vertolk in verhoogproduksies soos The Rainmaker en Tango.
Marius word gekenmerk vir sy eerlike, veelsydige spel, dikwels onder regie van Katinka Heyns.

Karakter- Basson van Rensburg Senior
Basson senior is die hoof uitvoerende direkteur van Vecto Petroleum. Hy het `n ontstuimige verhouding met sy seun, Basson Junior. Hy het baie respek vir sy werknemers en wil verhoed dat sy seun se selfsug tot hulle nadeel kom. Hy was `n hardwerkende besigheidsman wat byna nooit tyd gehad het vir sy privaatlewe nie, maar sy verswakkende hart versterk die nood na versoening met sy seun.

Vrae en antwoorde:
Vertel ons `n bietjie meer van jou karakter in Pad na jou Hart.
Ek speel Basson Van Rensburg Senior, die pa van Ivan Botha se karakter. Hy is 'n baie suksesvolle besigheidsman. Maar hy het deur die jare, in sy najaag na geld en sukses, sy familie verwaarloos. Nou, egter kort voor sy dood, besef hy sy seun gaan moontlik dieselfde pad loop. Hy wil dit ten alle koste verhoed. Hy't intussen geleer daar is ander prioriteite in die lewe; verhoudings met mense kan so veel meer vreugde bring as die materiële. Hy beplan 'n hele reis vir sy seun waarin hy tot ander insigte sal kom.

Hoekom moet mense Pad na jou Hart gaan kyk?
Ek dink die mense gaan die reis met die twee jongmense baie geniet. Daar’s lekker dialoog en heelwat spanning na die einde toe.

Wat is jou gunstelling herinnering aan Pad na jou Hart?
Die eerste toneel wat ek moes skiet het ek 'n baie nare verkoue gehad, gelukkig was dit 'n toneel waarin ek dodelik siek in die bed moes lê. Dit was maklik!!!
Wat is een van die dinge op jou ‘bucket list’?
Ek wil nog 'n valskermsprong doen en weer Parys en Rome en Florence gan besoek en, en, en...

Die film open landswyd in teaters op Valentynsdag 2014. Wat doen jy gewoonlik op Valentynsdag?
Niks, ek koop vir my vrou blomme wanneer sy dit nie verwag nie.

Wat is die pad na jou hart?
Net my vrou ken daai paadjie, en 'n bottel goeie rooiwyn kan ook maar probeer.