Donnalee Roberts - Amory


Die Suid-Afrikaanse aktrise, skrywer, vervaardiger en model Donnalee Roberts is bekend vir haar rol as die jong mode-ontwerper Annelie van Heerden in die SABC2-sepie 7de Laan. Sy het in 2013 die hoofrol van Cybil Ferreira in die film Klein Karoo vertolk waarvoor sy 'n SAIFTA-nominasie vir beste aktrise ontvang het. Donnalee is ook die medeskrywer, medevervaardiger en speel die hoofrol van Amory in die film PAD NA JOU HART. Donnalee is die mede-eienaar van die maatskappy Memory Box Productions.

Sy het in 2006 aan die Universiteit van Pretoria haar BA Drama-graad ontvang, het 'n verdere twee-jaar filmskoolkursus by die PALI (Performing Arts and Lifestyle Institute) filmskool in Pretoria gedoen waar sy hoofrolle in verskeie studente films gespeel het. In 2012 het sy aan die bekende New York Film Academy studeer waar sy 'n diploma in toneelspel in film ontvang het.

In 2006 is sy aangewys as die Universtiteit van Pretoria se Joolkoninging en Mej Kampus Suid-Afrika en het die Universiteit van Pretoria by die Wêreld Mej Universiteit in Suid-Korea verteenwoordig waar sy as die International Good Will Ambassador aangewys is. Sy is tans 'n ambassadeur vir die “Help Net”-huisie van veilige bewaring vir kinders asook Toys for Africa en is ook die gesig van en betrokke by verskeie ander Suid-Afrikaanse liefdadigheidsorganisasies.

Vrae en antwoorde:
Watter karakter vertolk jy? Vertel ons asseblief 'n bietjie meer oor die karakter.
Amory is 'n boheemse 'free-spirited' meisie wat lewe vir die hier en nou, sy besef die kosbaarheid van elke oomblik en verloor haarself daarin. Sy is wêrelde verwyder van moderne tegnologie en die gejaag van die lewe in die stad. Sy het 'n liefde vir oudhede soos haar 1968 Ford Anglia waarmee sy met haar 'bucket list' dwars oor die land reis op soek is na avontuur.

Hoekom moet 'n mens Pad na jou Hart gaan kyk?
Pad Na Jou Hart is 'n Afrikaanse romantiese avontuur-film met soveel diepte dat dit onmoontlik gaan wees om onaangeraak by die teater uit te stap. Nie net gaan jy weer verlief raak op verlief wees nie, Pad Na Jou Hart neem jou op 'n reis deur ons land waar jy weer ontdek hoe beeldskoon Suid Afrika is terwyl jy saam lag, saam huil en saam opnuut besef waaroor die lewe regtig gaan!

Wat is jou gunsteling herinnering aan Pad Na Jou Hart?
Ons het 3 300km dwarsoor die land gereis en het dele van Suid-Afrika 'ontdek' waar ek nog nooit was nie, ek het my hart totaal en al op ons land verloor. Dit was wonderlik om saam met so 'n professionele, passievolle span mense sulke herinneringe te maak.

Wat is een van die dinge wat op jou 'bucket list' is?
Om deur Memory Box Productions 'n film te skryf en te vervaardig, lewe te gee aan 'n karakter en storie wat op internasionale vlak erkenning kry en pryse wen, sodat Suid-Afrikaners saam met ons trots kan wees op die stories wat in ons land gebore word.

Die film open landwyd by teaters op Valentynsdag 2014. Wat doen jy normaalweg op Valentynsdag?
Ek is mal oor enige dag wat jou 'n 'rede' gee om iets te vier, so ek is altyd op soek na iets om te doen wat ekstra spesiaal is op sulke dae. Hierdie Valentynsdag gaan ek VERSEKER almal wat vir my spesiaal is vat om Pad Na Jou Hart te gaan kyk.

Wat is die pad na jou hart?
Die pad na my hart is die herinneringe wat ek saam met die mense na aan my maak, daai oomblikke wat jy besef jy wil nou nêrens anders wees nie en dis onmoontlik om gelukkiger te wees. My twee grootste passies is toer en die kuns om stories deur film te vertel... en dis presies wat ek met Pad Na Jou Hart kon doen, so dit was definitief ook die pad na my hart.

Wat het vir jou as skrywer die meeste uitgestaan?
As skrywer was dit vir my die mees vervullende gevoel om te sien hoe akteurs op stel die karakter en woorde wat jy geskryf voor jou laat lewendig word.

Hoe was die proses van medevevaardig vir jou?
Om konstant hoede tussen skrywer, akteur en medevervaardiger te moes ruil, was 'n groot uitdaging, maar ek het die voorreg gehad om saam met die wonderlikste, professionele, passievolle span mense te kon werk om 'n film te kon maak waarop almal kan trots wees.

Hoe was dit om saam met Jaco Smit as Regisseur te werk?
Jaco is een van die talentvolste regisseurs in die land. Sy toewyding aan die projek was vir my 'n inspirasie en ek het volkome vertroue in hom gehad om 'n droom waaraan ons al so lank gewerk het te kon oorhandig. As 'n span het ek en hy en Ivan al van die skryfproses af saam gewerk om Pad Na Jou Hart tot sy volle reg te kon laat kom.

Karakter - Amory
Amory is `n beeldskone, boheemse jong meisie opsoek na avontuur. Sy het onder swaar omstandighede groot geword, maar is vasbeslote om die mooi in die lewe raak te sien en te waardeer. Wanneer sy vir Basson junior ontmoet is dit duidelik dat hy nie haar passie vir die lewe deel nie, maar haar aansteeklike avontuurslus verander dit vinnig. Ten spyte van haar sorgvrye voorkoms worstel sy ook met donker geheime wat dit moeilik maak om oop kaarte te speel met hom.