Ivan Botha - Basson van Rensburg Jnr


Akteur, skrywer en vervaardiger Ivan Botha is bekend vir sy hoofrol as Wimpie Koekemoer in die suksesvolle Afrikaanse filmtrilogie Bakgat 1, 2 en 3 (waarvoor hy in 2009 'n SAFTA-nominasie ontvang het) en ook as Pieter van Heerden in die gewilde SABC2 sepie 7de Laan.

Ivan is die medeskrywer en medevervaardiger van die nuwe film PAD NA JOU HART wat op 14 Febuarie 2014 vrygetsel word, waarin hy ook die hoofrol van Basson van Rensburg vertolk. Ivan is die mede-eienaar van die maatskappy Memory Box Productions.

Ivan het sy N.Dip in Drama in 2006 aan die Tswhane Universiteit van Tegnologie verwerf, en het gespesialiseer in regie en teksskryf. Na sy studies het hy die karakter van Roberto Martinelli in die kykNET sepie Villa Rosa gespeel.

Ivan se televisiekrediete sluit in die SABC-produksies Justisie for All en Riemvasmaak, kykNET se Getroud met Rugby en vanaf 2009 tot 2012 het Ivan 'n musiekprogram MK Live op DStv-kanaal 324 aangbied.

Sy filmkrediete sluit ook Hond se Dinges, Superhelde (waarvan hy medeskrywer was), Roepman en Verraaiers in.

Ivan se teaterkrediete sluit in Dis Ek Anna (2006), Hel op Hemel en Aarde (2011) en Ben Babsie en Familie (2013).

Ivan is 'n ambassadeur vir die liefdadigheidsorganisasie "Help Net" huise vir die veilige bewaring van kinders.

Vrae en antwoorde:
Watter karakter vertolk jy? Vertel ons asseblief 'n bietjie meer oor die karakter.
Ek speel Basson van Rensburg Jnr. Hy is 'n selfversekerde man in sy laat twintigs en die seun van Basson senior, asook die erfgenaam van Vecto Petroleum. Hy stel bevordering bo ander mense se behoeftes en is gewoond daaraan om sy sin te kry – veral met meisies. Hy koester 'n wrok teen sy pa wat hom as kind afgeskeep het vir sy werk. Hy hou daarvan om dinge op sy manier te doen en het geen respek vir sentimentaliteit nie. Maar wanneer hy vir Amory ontmoet, gaan sy oë oop vir wat regtig saak maak in die lewe.

Hoekom moet 'n mens Pad Na Jou Hart gaan kyk?
Ek glo Pad Na Jou Hart is 'n eerste in sy soort vir ons land. Mense moet dit gaan kyk omdat dit 'n onbeskryflike mooi avontuur is waarmee hulle sal kan identifiseer. Die storie is iets uniek en die gehoor gaan saam kan lag, huil en verlief raak op ons land. Dit is werklik die mees romantiese film wat al in Suid-Afrika gemaak is.

Wat is jou gunsteling herinnering aan Pad Na Jou Hart?
Wow, daar is so baie en amper onmoonlik om net een uit te sonder. Wat wel baie uitstaan, was die hele twee weke van die road trip se verfilming. Ek het die kans gekry om toneel te speel in dele van ons land wat asemrowend mooi is soos “Map of Africa” in Die Wildernis. Ons was 'n span van so 12 karre en 30 mense wat soos die sirkus deur die land getoer het. Onvergeetlike avontuur.

Wat is een van die dinge wat op jou 'bucket list' is?
Drie groot dinge op my ‘bucket list’ sal wees. 1. Om Mexico toe te gaan en 'n tequila af te sluk. 2. Om 'n film te skryf, vervaardig en in te speel wat 'n Oscar wen. 3. Dat my pragtige dogtertjie Amelie altyd geluk en liefde ervaar.

Die film open landwyd in teaters op Valentynsdag 2014. Wat doen jy normaalweg op Valentynsdag?
Ek gaan fliek. So dié Valentynsdag gaan ek beslis weer in die filmteaters wees. Ek hoop die res van Suid-Afrika ook.

Wat is die pad na jou hart?
My dogtertjie is vier en sy is die ware pad na my hart.Om stories te vertel lê ook na aan my hart. Dit is vir my 'n baie groot voorreg om te kan doen wat ek doen vir 'n lewe.

Wat het vir jou as skrywer die meeste uitgestaan?
Dit was regtig 'n groot voorreg om saam met Donnalee te kan skryf, sy het 'n wonderlike verstaan van die menslike emosie en van karakterdiepte. Wat ook vir my uitgestaan het, was om almal se verskeie unieke interpretasies op ons werk te beleef.

Hoe was die proses van medevervaardig vir jou?
Ek het so paar grys hare bygekry, maar ek sal dit nie anders wil hê nie. Dit is vir my belangrik om op alle vlakke betrokke te wees. Ek het die meeste van die film gemaak geleer deur betrokke te wees as medevervaardiger.

Hoe was dit om saam met Jaco Smit as regisseur te werk?
Ons kon nie vir 'n beter regisseur gevra het nie, Pad Na Jou Hart is my en Donnalee se groot droom en passie. Toe Jaco as regisseur aan boord gekom het, het hy van dag een af dieselfde droom en passie as ons gedeel. Hy het ook 'n vars en unieke aanslag tot die storie gebring wat baie belangrik was.

Karakter - Basson van Rensburg Junior
Basson junior is `n aantreklike, selfversekerde man in sy laat twintigs. Hy is die seun van Basson senior en ook die erfgenaam van Vecto Petroleum. Hy het dit alles, geld, meisies, die kar of so dink hy. Basson het ‘n gebroke uitkyk op die lewe en ook ‘n gebroke verhouding met sy pa, maar smag tog dat sy pa op hom moet trots wees. Hy bestuur die Sandton tak van sy pa se multi miljoen rand besigheid. Basson moet die waarde van die lewe en liefde leer voor hy die besigheid kan erf en weer heel kan word.