Kinematografie: Jacques Koudstaal


Voordat film hom gevind het, het Jacques Koudstaal 'n suksesvolle loopbaan in interaktiewe ontwerp by die bekende ontwerpsateljee, Wireframe, gehad.

Hy het 'n reeks goue Loeries en 'n benoeming by die Cannes Filmfees vir sy werk gekry.

Sodoende het hy die kuns van komposisie en vertelkuns geleer en sy voelers uitgesteek om betrokke te raak by gemenge media, en uiteindelik kort films.

Hy het sy passie vir film ontdek en by AFDA begin studeer waar hy later sy BA Honneursgraad in Film voltooi het en as Kinematograaf van die Jaar aangewys is.

Jacques is as een van 16 wêreldwye studente gekies om die Kinematiese Meestersklas aan Budapest Universiteit in Hongarye by te woon. Die klas is aangebied deur die Oscar-wenner Vilmos Zsigmond A.S.C. (The Deer Hunter, Deliverance, Close Encounters of the Third Kind).

Sedertdien werk Jacques aan advertensies (McDonald’s, Opel, Weet-Bix, Red Bull), 'n televisiereeks (Rugby Motors) en vollengte films, Jimmy in Pienk en Pad Na Jou Hart.

Hy is tans besig met die ontwikkeling van 'n vollengte dokumentêre film oor die psigedeliese rock-kunstenaars in Zambië tydens die 1970’s.