Regisseur: Jaco Smit


Jaco is 'n filmmaker in die ware sin van die woord. As skoolkind in die Paarl in die Wes-Kaap het 'n doodgewone voorliefde vir flieks 'n lewensredder geword toe hy sy rug in 'n motorfietsongeluk gebreek het en hy maande op in die bed moes lê met honderde flieks as sy enigste afleiding.

Toe hy herstel, is hy Kaapstad toe om skool te voltooi, waar hy van die nuwe filmskool, AFDA, gehoor het.

In 2006 voltooi hy sy graad in Regie en Draaiboekskryf aan AFDA en besef hy dadelik dat praktiese ondervinding en ervaring die volgende stappe in sy tog as filmmaker moes wees.
Hy het verbasend gou gevorder van koffie-aandraer na assistant-regisseur en verdien van 2007 tot 2012 sy brood en botter op hierdie wyse in die plaaslike- en internasionale filmindustrieë.

As assistant-regisseur het hy saam met vele bekroonde regisseurs gewerk en sy tande geslyp op produksies soos District 9, HBO se Generation Kill-televisiereeks en plaaslike films soos Verraaiers, Klein Karoo en Hopeville.

In die tussentyd het hy sy eie produksiemaatskappy, Testify Films, gestig en 'n rits musiekvideo’s gemaak wat almal die eerste plek op die DStv-kanaal, MK, se ranglyste bekleë het.

In 2012, span hy en sy skrywersvriend/vennoot Beer Adriaanse saam om die kort film, Die Buurtwag, vir kykNET en Nu Metro se Silwerskerm Filmfees te maak.

Hierdie kort film wen toekennings vir Beste Regie, Beste Teks asook die Gehoor-toekenning vir Beste Kort Film by die fees. Kort daarna word Die Buurtwag ook aanvaar as 'n 13-episode komediereeks vir kykNET, en is dit tans in ontwikkeling.

Sy loopbaan as regisseur begin met die kykNET-reeks Thomas@ se tweede seisoen asook sy eerste vollengte rolprent, Pad Na Jou Hart.

Jaco is tans as regisseur en medevervaardiger besig met die ontwikkeling van Die Buurtwag-reeks, asook twee vollengte filmprojekte vir 2014 en 2015.

In sy vrye tyd bak hy smullekker volgraan- en aarbeibrode, en geniet hy lang staptogte in watter omgewing hy homself ookal bevind.

As regisseur van Pad na jou Hart

Na die sukses van my kort film Die Buurtwag in 2012, het Danie Bester my genader vir 'n projek saam met Ivan Botha en Donnalee Roberts wat hulle in 2013 sou verfilm: Pad na jou Hart. Ek en Ivan het reeds 'n paar keer tevore saamgewerk (ek as assistant-regisseur) op projekte soos Hond se Dinges en Bakgat 2, en ek het vroeër in 2012 vir Donnalee op die stel van Klein Karoo ontmoet.

Tydens al die produksies het ons dit verskriklik geniet om saam te werk, en so het ek ook ervaar hoe ongelooflik toegewyd en passievol hul albei is oor die Afrikaanse filmbedryf. Danie, Ivan en Donnalee het toe formeel vir my 'n teks van Pad na jou Hart gestuur en my gevra om die film se regie te behartig. Ivan en Donnalee, wat die teks geskryf het, het my met ope arms verwelkom en saam het ons, met die hulp van my teksredigeerder, Beer Adriaanse, deur nog drie ‘drafts’ gewerk tot ons gelukkig was dat ons 'n baie soliede en bruikbare draaiboek in die skietproses kon inneem.

Die lekkerste deel van die voorproduksie-stadium was die feit dat die ‘roete’ of avontuur wat in die film afspeel 'n ‘blank canvas’ was, en dit was my werk om hierdie besondere roete te gaan vind. Ek, Danie en Jacques Koudstaal, my kameraman, het dus die 3 500km deur Suid-Afrika aangepak om die ‘pad’ van Pad na jou Hart te vind.

'n Ander hoogtepunt was dat ons reg aan die einde van ons eerste soektog na die ‘pad’ op ons ander karakter in die film afgekom het. Tydens ons rit, het ons het vinnig by Sedgefield Classic Cars gestop, toe ek die 1968 Ford Anglia sien. Sy was 'n roomkleurige pragstuk, met rooi leerstoele. Toe ek haar sien, het ek die vervaardigers gebel, foto’s geneem, en geweet sy’s die karrietjie vir hierdie film. Twee weke later was sy by ons in Johannesburg.

Vrae en antwoorde:
Wat is jou gunsteling rolprent en wie is jou gunsteling regisseur/s?
Raging Bull. Jean-Pierre Juenet, Martin Scorcese en Nicolas Winding Refn.

Hoe het jy die proses van die maak van 'n romantiese avontuur film benader?
Dit was 'n nuwe ondervinding vir my, nie net omdat dit my eerste vollengtefilm was nie, maar ook omdat dit 'n genre is waarmee ek glad nie bekend is nie. Ek het romantiese- en avontuurfilms bestudeer, en so ook bevestig dat ons teks 'n baie mooi storie van self-ontdekking is, met baie hart. Ons het twee baie interessante karakters wat albei se ideale en relevante sienings uitbeeld oor 'n moderne uitkyk op die lewe. En dan vanselfsprekend die beeldskone landskap waarteen die verhaal afspeel. Vir my was die uitdaging op die ou end baie maklik. In die kort tydperk wat die storie in die film afspeel, moes ek dit regkry om 'n baie buitengewone situasie soos die grootste lewensavontuur te laat voel: vir die karakters en die kykers.

Hoe het jy die akteurs/aktrises ervaar?
Ons het baie tyd en moeite in die rolverdeling ingesit en Lelia Bester het hierdie proses vir ons bestuur. Elke karakter in die teks is noukeurig geplaas vir die storie se behoeftes, en toe dit by die personifikasie van die karakters kom, het dit 'n lewe van sy eie tot gevolg gehad. 'n Goeie voorbeeld hiervan is ‘Hendrik’ en ‘Pietie’, die twee boeties op die plaas. Hulle is geskryf as fris ‘dumb and dumber’-boerseuns, maar toe ek my verbeelding 'n bietjie laat gaan, het ek besef ons het iets uniek en spesiaal nodig vir hulle. Dis toe dat ons Francois Jacobs en Solomon Cupido inroep het vir 'n gesamentlike oudisie, en so is die karakters van Hendrik en Pietie ‘gebore’.

Om so bevoorreg te kon wees om so deeglik deur 'n teks te kon werk met die hoof-akteurs, Ivan en Donnalee, tydens die skryfproses het outomaties deel gevorm van ons voorbereiding vir die film vir hulle karakters, Basson en Amory. Ek glo vas dat geloofwaardigheid en oorspronklikheid in toneelspel net vanuit 'n akteur self kan kom, en wanneer daar tegniese leiding moet gebeur, is ek daar. Al die akteurs in Pad na jou Hart het beslis die storie aangeneem as hul eie, en het merkwaardige spel na die projek gebring. Om saam met hierdie groep akteurs op hierdie film te kon werk, was vir my 'n besondere voorreg wat ek altyd sal koester.

Wat was vir jou 'n hoogtepunt?
Twee weke, 25 mense, ±30 stelle en 3 500km. Dit was 'n ‘once-in-a-lifetime’-ervaring.

Hoe was dit om saam met The Film Factory en Memory Box Productions te werk? Sedert The Film Factory die geleentheid geskep het vir die res van ons Afrikaanse filmmakers met Bakgat 1, het ek al 'n paar projekte saam met hulle behartig. Hierdie was my eerste as regisseur, en ek kan nie aan 'n beter plek dink om mens se voete te vind nie.

Hoekom moet mense Pad na jou Hart gaan kyk?
Met Pad na jou Hart het ons daarin geslaag om in 'n eg Afrikaanse rolprent, uniek aan die landskap wat alle Suid-Afrikaners ken en waarvoor hulle lief is, tematies te kon ‘worstel’ met die konsepte van sukses, liefde, opofferings en persoonlike verhoudings. Dis oor twee mense wat in twee verskillende wêrelde leef, maar in 'n 1986 Ford Anglia-‘kapsule’ ervaar hulle mekaar en hulself, en besef dat hulle voorgeskrewe idees van wie hulle is dalk nie presies is wat hulle gedink het nie. Dit, en natuurlik, net soos die karakters besef hulle weet dalk nie alles nie, sal die kykers ook besef dat hulle nie noodwendig alles weet nie…

Hoekom wil jy rolprente in Suid-Afrika maak?
Ek dink dit is 'n groot voorreg om films in ons eie taal te kan maak, en met die finansiële insentiewe en onvertelde stories is die tyd nou perfek daarvoor. En dan natuurlik is ek 'n filmmaker, en ek bly in Suid-Afrika...