Hoofvervaardiger: Danie Bester Film Factory


Danie Bester het oor die afgelope ses jaar 16 vollengte films vervaardig en word deur baie mense beskou as 'n sleutelpersoon in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.
Danie het in 1993 sy matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi. Daarna het hy BCom Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy ook 'n bekende platejoggie op Radio Tuks (TuksFM) was. Hy het die jare 1996 en 1997 in Londen deurgebring.
Danie het in 2002 sy honneursgraad (cum laude) aan AFDA in Rolprent Medium verwerf. Tydens sy finale jaar het hy verskeie toekennings ontvang en is aangewys as ‘beste skrywer’, ‘beste regisseur’ en ‘beste vervaardiger’.
Hy was die vervaardiger van Ouma se Slim Kind, Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die buitelandse filmkategorie van 2008 se Oscar-toekennings.
Danie het pryse ontvang vir die kort film Skitterwit (M-Net New Directions), Die Gevoelsorgaan (AFDA) en Cameraboy (M-Net Edit), waarvan hy die vervaardiging, regie en draaiboek skryf behartig het.

Aan die begin van 2007 was Danie een van twee vervaardigers wat deur die Nasionale Film en Video-stigting (NFVF) gekies is om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Rotterdam Lab – 'n program wat jong vervaardigers van regoor die wêreld die kans gebied het om besigheidsverbintenisse te vorm.
Hy was ook een van drie plaaslike filmmakers wat Suid-Afrika by die Berlin Talent Campus (BTC) verteenwoordig het. Die BTC is 'n program wat tydens die Berlynse Filmfees aangebied word. Danie is ook 'n gegradueerde van die hoogs aangeskrewe Trans Atlantic Partnership – 'n ko-produksie-inisiatief tussen Europa, Kanada en die VSA.
In 2011 het hy die Mr Video-toekenning gewen vir die vervaardiger wat die grootste bydra in die plaaslike filmindustrie gelewer het.
Danie was betrokke by die vervaardiging van meer as 100 advertensies en musiekvideo’s. Maatskappye waarvoor hy al gewerk het, sluit in Nike UK, Sony USA, Czar Belgium, Happiness Brussels en SAB.
Hy het ook die regie en vervaardiging behartig van musiekvideo’s vir kunstenaars soos Jesse Clegg, Karen Zoid, Mandoza, Tumi and the Volume en die jazz-legendes, Sipho Gumede en Pops Mohammed.
Bakgat! was die eerste Afrikaanse tienerkomedie en die sukses daarvan het gelei tot die vervaardiging van Bakgat! 2 en Bakgat! 3.
Danie het ook as vervaardiger opgetree vir Superhelde, Ek Joke Net, Night Drive en Roepman, wat die eerste Afrikaanse vollengte-film was wat in teaters in die VSA vrygestel is.

Ander films wat groot sukses by die loket behaal het, was Hoofmeisie en Wolwedans in die Skemer. Daarna het die rolprent Verraaiers groot lof ontvang.
Danie het onlangs Musiek vir die Agtergrond en Bakgat! 3 in Suid-Afrikaanse teaters vrygestel.
Pad na jou Hart word in Februarie 2014 vrygestel. Dit word gevolg deur die kinderfliek Agent 2000, die dansrolprent Hear Me Move en die poetsbakfilm, Ek Joke Net 2.
Danie verskuif stelselmatig sy fokus na internasionale ko-produksies, fasiliteite en die ontwikkeling van plaaslike produksies wat internasionaal vrygestel kan word.
The Film Factory is in 2004 deur Danie gestig en is een van die mees produktiewe vollengte-film produksiehuise in Suid-Afrika. Die maatskappy ontwikkel, bevonds en vervaardig vollengte films in 'n diens-, ko-produksie- en produksiekapasiteit.
The Film Factory is 'n voorloper in die filmbedryf en word beskou as 'n pioniersentrum vir vernuwing en uitnemendheid.