Akteurs/Crew

Ivan Botha - Basson van Rensburg Jnr

Akteur, skrywer en vervaardiger Ivan Botha is bekend vir sy hoofrol as Wimpie Koekemoer in die suksesvolle Afrikaanse filmtrilogie Bakgat 1, 2 en 3 (waarvoor hy in 2009 'n SAFTA-nominasie ontvang het) en ook as Pieter van Heerden in die gewilde SABC2 sepie 7de Laan.

Ivan is die medeskrywer en medevervaardiger van die nuwe film PAD NA JOU HART wat op 14 Febuarie 2014 vrygetsel word, waarin hy ook die hoofrol van Basson van Rensburg vertolk. Ivan is die mede-eienaar van die maatskappy Memory Box Productions.

Donnalee Roberts - Amory

Die Suid-Afrikaanse aktrise, skrywer, vervaardiger en model Donnalee Roberts is bekend vir haar rol as die jong mode-ontwerper Annelie van Heerden in die SABC2-sepie 7de Laan. Sy het in 2013 die hoofrol van Cybil Ferreira in die film Klein Karoo vertolk waarvoor sy 'n SAIFTA-nominasie vir beste aktrise ontvang het. Donnalee is ook die medeskrywer, medevervaardiger en speel die hoofrol van Amory in die film PAD NA JOU HART. Donnalee is die mede-eienaar van die maatskappy Memory Box Productions.

Marius Weyers - Basson Snr. Van Rensburg

Marius Weyers is as volksbesit ‘verklaar’ vanweë sy indrukwekkende en lang loopbaan in film, televisie en teater. Met 'n reeks hoofrolle in sy roemryke jare as akteur, is hy bekend aan alle Suid-Afrikaanse rolprentkykers.

Dit is karakters soos Andrew Steyn in The Gods Must Be Crazy en Jakes in Siener in die Suburbs wat sedert die 1960’s vir Marius ikoonstatus in die Suid-Afrikaanse filmbedryf besorg het. Hy het ook in 'n verkeidenheid internasionale produksies verskyn, onder meer Blood Diamond, The Fourth Reich en Catch a Fire.

David James - Hein

David James is al jare lank in die vermaaklikheids-bedryf. Teater is sy groot liefde, maar hy speel ook gereeld in sepies, TV-reekse en films.

Ons ken hom van Isidingo, Binnelanders, Donkerland en veral Rhythm City, waarin hy die ‘baddie’, Hermanus Meyer, speel. Hy was die hoof-antagonis in die Oscar-benoemde wetenskapfiksie-rolprent, District 9, waarmee hy internasionale roem verwerf het.

Hy was onlangs in plaaslike films soos Ordinary People en Babalas. Hy verskyn binnekort in die kinderaksie-film, Agent 2000, asook Northmen.

Anton Dekker - Andre

Anton is 'n akteur en gewilde stemkunstenaar. Sy televisiewerk sluit in Trans Karoo, Sonkring, Egoli, 7de Laan en talle meer.

Anton se stem word dikwels oor die radio gehoor en hy word gereeld gebruik vir oorklankings. Hy besit sy eie klank-ateljee en beskik oor groot kennis van TV-oorklankings, radio-advertensies, dokumentêre werke en klankboeke.

Hy het ook in noemenswaardige films verskyn, naamlik Boetie op Manoevers, The Fourth Reich, Hansie en Ordinary People. Anton is bekend vir sy diep, fluweelstem.

Franci Swanepoel - Gerda

Franci is al sedert 1980 in die vermaaklikheidsbedryf. Sy het haar loopbaan begin met televisieprogramme soos Koöperasiestories en het later gereeld in kykNET-produksies as aktrise verskyn.

Sy was die aanbieder van die gewilde feesprogram, Fiësta, waarvan sy ook vervaardiger is.

Sy was meer ook te sien in televisieprogramme soos Getroud met Rugby, Liefste Kayla en Donkerland.
Sy het onlangs groot lof ontvang vir haar spel in die vollengte-rolprent, Lien se Lankstaanskoene.

Marcel van Heerden - Dawn

Marcel verskyn reeds 30 jaar in teater-, televisie-, radio- en filmproduksies en is dus een van Suid-Afrika se bekendste akteurs.

Hy het in 'n rits verhoogproduksies opgetree, onder meer Begeerte, The Crucible en Teerling.

Op televisie was hy te sien in dramas wat Onder Draai die Duiwel Rond, Konings en Donkerland insluit.

Carmin Coetzer - Lennon

Carmin is bekend vir haar rol as Marla in Rhythm City, Tenielle in Isidingo asook Kaylee Nienaber in Binnelanders.

Carmin het in 2004 as professionele aktrise haar buiging gemaak in Harry Kalmer se stuk Wie is Spek Harmse? waar sy teenoor Frank Opperman gespeel het.

Sy is tans te sien in die komedie Dorings en Rose deur Ben Kruger, asook die drama 'n Ander Tyd saam met Zane Meas. Carmin is op die oomblik besig met verfilming aan Villa Rosa.

Hélène Truter - Magriet van Rensburg

Hélène Truter het meer as 25 jaar se ondervinding in die teater-, film- en televisiebedryf. Sy is bekend vir haar rol as Tannie Poppie in die gewilde televisie komediereeks, Vetkoekpaleis.

Sy is benoem vir haar spel in programme soos Homeland, Oos Wes en Home Affairs. Sy het ook die rol van Sofia Kruger vertolk in die bekende sepie, Binnelanders.

Sy was in 2013 te sien as Hermientjie in die vollengte-rolprent, Klein Karoo.
Sy het pas die skryfwerk voltooi aan Swartwater, 'n televisiereeks, wat in 2014 op die kassie sal verskyn.

Wim Beukes - Basie van Rensburg

Kort nadat Wim sy Honneursgraad aan Noord-Wes Universiteit voltooi het, het hy onmiddellik sy passie vir toneel bevestig deur Noord-Wes Produksies te stig.
Dié toneelgeselskap het landwyd getoer moet produksies soos Kringe in die Bos, Hallo en Koebaai en Nagspel.

Op televisie het hy rolle vertolk in programme soos Song vir Katryn, Begeertes en Hart van Staal.
Hy het ook die rol van Poena se pa in die vollengte rolprentkomedie Poena is Koning gespeel. Deesdae werk hy voltyds by Rugget Products en deeltyds as akteur.

Lida Botha en Johan Botha - Ouma Poppie en Oupa Jan

Johan en Lida Botha is die goue-paartjie van die Suid-Afrikaanse kunste. Hulle het sedert die 1960s reeds in die vermaaklikheidsbedryf naam gemaak in programme en films soos ‘Die van Aardes van Grootoor,’ ‘Karnaval,’ ‘Nommer Asseblief,’ ‘Fiela se Kind’ en ‘Roepman.’ Hulle het ook onlangs in die suksesvolle TV-program, Oupa en Ouma, die hoofrolle vertolk. Die program is deur hul eie produksie-maatskappy, JohanLida Produksies, vervaardig.

Francois Jacobs - Hendrik van Rensburg

Francois het sy graad in drama voltooi aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is nou vir sy derde jaar in die vermaaklikheidsbedryf en het al in verskeie films, drama-reekse en sepies gespeel; Dit sluit in Binneland, 7de Laan, Donkerland, Sterlopers en Agent 2000. Hy het ook in kykNET se 2013 Silwerskerm Filmfees deelgeneem waar hy as ververvaardiger vir die kortfilm ‘Damduikers, dié Damduikers’ opgetree het. Hy hoop om in die toekoms by nog baie meer projekte betrokke te raak, hetsy dit voor of agter die cameras.

Solomon Cupido - Pietie van Rensburg

Al is Solomon slegs vyf jaar in die filmbedryf het hy reeds 'n klomp films agter sy naam. In dié kort tydperk het hy al in agt rolprente verskyn.

Ons het hom leer ken as Kallie se komiese vriend in Karate Kallie in 2009. Daarna het hy in Bakgat 2 'n rol losgeslaan wat die begin van 'n lang pad met The Film Factory was.

Boikie Pholo - Thomas Ndlovu

Boikie Pholo is mees bekend vir sy spel in die TV-program uit die 1980s, ‘Lesilo.’ Hy het ook vir 3 jaar in die komedie-program Ga Re Dumele gespeel op SABC 1.

Karakter - Thomas Ndlovu
Thomas Ndlovu is `n ou Zulu vriend uit Basson senior se studentejare. Hulle het saam aan Oxford se besigheidsskool gestudeer. Hy was `n baie suksesvolle besigheidsman, maar het besluit om eerder na sy tuisdorp terug te keer en by te dra tot die gemeenskaps-ontwikkeling daar. Hy is `n wyse man wat sy menseverhoudings as sy rykdom beskou.

Tshiamo Molobi - Lucky

Tshiamo is `n 10-jarige seun van Fourways. Nadat hy die kinder-akteur, Junior Singo, se spel in ‘Drum Beat’ gesien het, was hy gesinspireer om `n loopbaan as akteur te begin. Hy is dol oor die Iron Man-films en veral die hoofakteur, Robert Downey Junior. Pad na jou Hart was sy eerste rol in `n film en die ervaring het hom net aangespoor om sy loopbaan verder te vat. Hy is tans `n leerder by Bryandale Primary School.

Kevin Smith - Dr Scholtz

Kevin Smith is bekend vir sy rol as Frank Xavier in die gewilde sepie, ‘Isidingo.’ Hy het ook in `n verskeidenheid films verskyn ondermeer ‘Jobman’ van Darrel Roodt waarin hy die hoofrol vertolk het en ook die laaste instelling van Quentin Tarentino se trilogie, ‘From Dusk Till Dawn.’ Buiten ‘Isidingo,’ het Kevin ook rolle gehad in programme soos ‘Getroud met Rugby,’ ‘Erfsondes’ en ‘Kruispad.’

Kevin het `n jaar in Los Angeles spandeer waartydens hy masseerterapie gestudeer het.

Rina Nienaber - Matrone

Rina is 'n aktrise, regisseur, teksskrywer en stemkunstenaar. Sy was te sien in films soos Die Spaanse Vlieg, Witblits en Peach Brandy en Pretville.
Op televisie het sy rolle vertolk in enkeldramas soos Moeders en Dogters en Die Laaste van die Takhare.
Sy het ook in reekse soos Erfsondes en Getroud met Rugby gespeel. Vir laasgenoemde het sy 'n SAFTA-benoeming vir haar spel ontvang.

Sy was ook te sien in 'n verskeidenheid televisieprogramme, onder meer Moeggeploeg, waarvan sy ook die skrywer en vervaardiger was.

Lelia Etsebeth - Ontvangsdame

Lelia Etsebeth is bekend vir haar rol as ‘Liezl’ in die ‘Bakgat’-trilogie. Sy het sedertdien ook verskyn in ‘Wolwedans in die Skemer’ en ‘Mollie en Wors.’ Op televisie was sy in die kykNET-reeks, ‘Donkerland’ te sien en sy het haar een-vrou verhoogstuk, ‘Bokkie Botha’ op die plank gebring by Aardklop Kunstefees. Wanneer sy nie toneel speel nie bied sy drama werkswinkels aan.

Marlee van der Merwe - Bartender

Marlee is `n bekende onder teatergangers. Sedert sy haar graad in drama aan Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi het, is sy feitlik onophoudelik betrokke by teater produksies. Sy het verskyn in Showboat, die internasionale musiekblyspel met Janice Honeyman as regisseur. Sy was ook in Born in the RSA en sy het as sangeres en danser in die Barnyard produksie, Celtic Rock, opgetree. The Full Monty val ook onder haar lys van musiekblyspelle waarin sy gespeel het. Sy het onlangs die hoofkarakter gespeel in die 50s-musiekblyspel, ‘Pretville.’

Bouwer Bosch - Dj Weetbix

Bouwer is bekend as die hoofsanger van die SAMA-genomineerde groep, Straatligkinders. Hy is ook deel van die suksesvolle Dans Dans Lisa musiek-duo.

Bouwer is tans deel van `n produksie maatskappy met die naam van ‘Bouwer Bosch Films.’ Hy het deur BBF meer as 20 musiek videos vervaardig. Bouwer se Youtube-kanaal is nommer 54 van die 100 mees-besoekte kanale van Suid-Afrika. Hy het sy filmdebut gemaak in ‘Klein Karoo’ en kort daarna was hy te sien in die mini-reeks, ‘Ligte Kamera Liefde’ sowel as die TV-drama reeks, Donkerland.

Jaco Muller en Eddie de Jager - Janis en Philip

Karakters - Janis en Philip
Janis en Philip het saam met Basson gematrikileer. Hulle het nie veel verander vandat hulle skool verlaat het nie, behalwe vir hulle lewensomstandighede. Anders as Basson is hulle nou albei in langtermyn verhoudings met meisies wat saam met hulle skool gegaan het. Hulle admireer nogsteeds Basson se leefstyl, maar verkies om `n rustiger, standvastiger bestaan te voer. Hulle is al vir die afgelope 15 jaar beste vriende en wanneer hulle bymekaar kom is hulle geneig om hand uit te ruk.

Hoofvervaardiger: Danie Bester Film Factory

Danie Bester het oor die afgelope ses jaar 16 vollengte films vervaardig en word deur baie mense beskou as 'n sleutelpersoon in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.
Danie het in 1993 sy matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi. Daarna het hy BCom Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy ook 'n bekende platejoggie op Radio Tuks (TuksFM) was. Hy het die jare 1996 en 1997 in Londen deurgebring.

Medevervaardigers: Ivan Botha en Donnalee Roberts

Verwys na Ivan Botha en Donnalee Robert se biografieë soos per Rolverdeling.

Regisseur: Jaco Smit

Jaco is 'n filmmaker in die ware sin van die woord. As skoolkind in die Paarl in die Wes-Kaap het 'n doodgewone voorliefde vir flieks 'n lewensredder geword toe hy sy rug in 'n motorfietsongeluk gebreek het en hy maande op in die bed moes lê met honderde flieks as sy enigste afleiding.

Toe hy herstel, is hy Kaapstad toe om skool te voltooi, waar hy van die nuwe filmskool, AFDA, gehoor het.

Draaiboek en Storie: Ivan Botha en Donnalee Roberts

Verwys na Ivan Botha en Donnalee Robert se biografieë soos per Rolverdeling.

Kinematografie: Jacques Koudstaal

Voordat film hom gevind het, het Jacques Koudstaal 'n suksesvolle loopbaan in interaktiewe ontwerp by die bekende ontwerpsateljee, Wireframe, gehad.

Hy het 'n reeks goue Loeries en 'n benoeming by die Cannes Filmfees vir sy werk gekry.

Sodoende het hy die kuns van komposisie en vertelkuns geleer en sy voelers uitgesteek om betrokke te raak by gemenge media, en uiteindelik kort films.

Hy het sy passie vir film ontdek en by AFDA begin studeer waar hy later sy BA Honneursgraad in Film voltooi het en as Kinematograaf van die Jaar aangewys is.

Redigering: Dwaine Faria-Carrao

Vrae en antwoorde:
Wat is jou gunstelling fliek en regisseur?
Man on Fire. Directors I enjoy are Tony and Ridley Scott, Micheal Bay.

Kunsregisseur: Francois Coetzee

Francois Coetzee het in 2003 sy studies aan die Technikon Pretoria se rolprentskool voltooi waarna hy in verskeie posisies op 'n menigte TV-produksies vervul het. In 2008 het hy na die rolprent-bedryf oorgeskakel en as rekwisite meester vir produksies soos ‘Platteland’, ‘Roepman’, ‘Verraaiers’ en ‘Faan se Trein’ opgetree.
Hy is in 2013 benoem vir 'n SAFTA-toekenning vir sy werk as kuns-regisseur op ‘Semi-Soet’.